Hoofstuk 8

Die restaurantjies by die Bordeaux Waterfront is soos gewoonlik druk besig. Aimée stap tot teen die reelings wat die wandelpaadjie van die rivier skei en kyk oor die rivier uit. Die rustige vloei van die rivier en die opgewonde gesels van toeriste, wat in vreemde tale die waterfront bespreek, laat haar sag glimlag. Die rivier, die waterfront en die eindelose restaurantjies kan deur inwoners so maklik as vanselfsprekend aanvaar word maar vir haar was dit nog altyd idilies.  Toeriste drink die atmosfeer in en dit maak die waterfront lewendig en vrolik. Die mengelmoes van kleure en geure begroet haar as sy naderstap na die restaurant Fernand waar tante Gabriël haar gaan ontmoet. Sy is aspris baie vroeg sodat sy so bietjie alleen kan wees. Sy het nodig om haar gemoed te kalmeer, sy weet nie hoekom nie maar ‘n snaakse gevoel het haar vroeg aand oorweldig toe sy regmaak vir die ete afspraak met tante Gabriël.

“Juffrou  Bertrand” antwoord sy die bestuurder toe dié haar vra of sy ‘n bespreking het

“Ah, u tante het bespreek, ek het vir julle ‘n tafel reggemaak.” antwoord die bestuurder en lei Aimée na ‘n tafeltjie aan die kant van die restaurant. Die tafel is effe eenkant en word geskei deur lieflike potplante. ‘n Pragtige uitsig oor die rivier en die mense wat op die plein wandel maak die tafeltjie eintlik meer romanties as privaat.

Aimée bestel vir haar ‘n glas wyn en steek ‘n sigaret aan. Sy moet ontspan, sy moet haar eie emosies in toom hou, al gaan die aand moontlik iets oplewer wat haar kan ontstel.

Aimée staar uit oor die plein en skrik half toe tante Gabriël aan haar skouer vat. “Aarde na Aimée” lag tante Gabriël.

“Ek het maar net die uitsig bewonder tante, wyn?” vra Aimée terwyl tante Gabriël gaan sit

*******

Jean vat ‘n slukkie van sy koffie en dink terug aan die dag se gebeure. Die son wil, wil agter die horison verdwyn, wat die laat middag op die plaas rustig maar onheilspellend maak. Onheilspellend vir Jean want hy wil graag die berg op, hy wil alleen die berg op, as hy net van Ansie ontslae kan raak. Hy sal aan ‘n plan moet dink hoe om haar te oortuig dat hy alleen wil gaan.

Hy kan natuurklik ongeskik wees en net verdwyn, hy kan nou ry, hy kan nie sy deur oopmaak as Ansie klop nie. Jean besluit die “hy moet nou ry” is die beste opsie. Hy sluk sy laaste slukkie koffie af terwyl hy naarstigtelik aantrek en vinnig na sy bakkie stap om te ry.

“Waar gaan jy so haastig Jean?” kom dit van Ansie toe hy die bakkie se deur oopmaak

Dink op jou voete Jean …… “Ek moet huistoe Ans, my ma het gebel my Pa is nie lekker nie” antwoord Jean haastig en maak die deur van die bakkie oop.

“Wag vir my ek gaan saam, ek kry net gou ‘n warm ding” roep Ansie oor haar skouer toe sy drafstap huistoe.

Jean staan versteen en kyk hoe Ansie die huis in draf om ‘n trui te kry. “Damit, damit, damit!” Sê hy hardop vir homself.

Jean weet wat hy nou gaan doen kan veroorsaak dat hy dalk die voskop se verkeerde kant gaan ervaar, maar hy moet net alleen die berg uit. Hy klim in die bakkie en ry  in die rigting van die berg sonder Ansie.

***

Jean stop net buite die klein dorpie waar Andries en die ander werkers woon. Hy parkeer die bakkie buite sig van die motors in die pad en stap stadig in die rigting van klein Anna se huis. Hy weet nie wat hom weer na klein Anna se huis trek nie maar hy weet hy gaan daar antwoorde kry.

Die huisies van die werkers is afge-ets teen die hang van die berg. Dit is die aand na volmaan met ‘n lagie mis wat swaar op die grond hang. “Dit lyk soos in die movies” dink Jean amper hardop. By klein Anna se huis aangekom stap Jean na Santie se kamer venster en gaan sit met sy rug teen die muur en kyk op na die berg wat sowat 200 meter verder die hemel inskiet. In die huisie agter Jean gesels klein Anna en haar familie vrolik en is Santie se ondervinding van die oggend onder bespreking.

Dis vroegaand en Jean maak sy oë toe en lê met sy kop terug teen die muur. Hy sal moet wag tot na middernag en sal moet prober slaap, al is dit half ongemaklik. Die reuk van die Wolf en Santie se bloed is nog vars in die omgewing.

***

“Smit, ek gaan jou vermoor!” skree Ansie toe sy terug draf na Jean se woonstel en sien sy bakkie is weg. “Die klein dinges is seer sekerlik alleen die berg op, sy siek Pa se alie, dit was net ‘n storie” mompel sy onderlangs terwyl sy huistoe stap om haar kar se sleutels te kry. Sy gaan hom soek kom wat wil.

“PAAA!,” roep Ansie die gang af

“Ja Ansie wat klink jy so ongeduldig” antwoord oom Hendrik

“Ek wil by Wilma gaan kuier, mag ek die bakkie leen asseblief” vra Ansie toe haar Pa sy kop by die kombuis insteek

“Ja vat die grote, hy is veiliger in die nag” antwoord oom Hendrik

Ansie klim in die bakkie en vat pad in die rigting van die berg.

***

Jean skrik wakker waar hy in die donker onder die venster van klein Anna se huis sit. Hy loer vinnig na sy horlosie en sien dit is net na elf. Hy staan stadig op en voel hoe hy sy lyf en rug “verslaap” het teen die muur. ‘n Rilling trek teen sy ruggraat af as ‘n koel windjie vanuit die berg op sy gesig waai. Hy stap na ‘n groterige struik aan die rand van klein Anna se erf en kyk in die straat af. Daars niemand op straat nie, hy hoor verder weg, aan die kant van die woonbuurt, hoe die werkers in die kroeg lag en gesels. Nou en dan lag iemand hard, ‘n Radio blêr Country en Western musiek nader aan klein Anna se huis.

Jean verstar, verbeel hy hom of het hy uit die hoek van sy oog iets in die donker sien beweeg. Hy stap gebukkend om die struik en kyk in die wandelpaaidjie af, in die rigting van die berg. Daars dit weer, hy verbeel hom nie. Dis wind af so as dit die Wolf is, sal die hom ruik en nie anders om nie. Die “iets” wat beweeg is lomp en bly in die rigting van klein Anna se huis kyk, die “iets” prober in die skuwees van die struike en bome bly. Dis nie die Wolf nie.

“Wat maak jy hier Ansie?” vra Jean verergd.

Ansie wip soos sy skrik toe Jean aan haar arm vat. “Hoe de duiwel kom jy so stil agter my, ek het jou nie gehoor nie, jy was nou net daar agter die struik?” vra Ansie

“Antwoord my vraag, wat maak jy hier?”

“Ek kan dieselfde vra Jean, jy lieg vir my oor jou Pa en waar kry ek jou, onder Santie se venster vas aan die slaap” antwoord Ansie vererg.

“Dit was nie nodig om hierna toe te kom nie Ans, dis gevaarlik, jy weet nie wat kan gebeur nie.” Antwoord Jean sag en Ansie kan in sy oë sien hy is opreg bekommerd oor haar.

“Eks ‘n groot dogtertjie Jean, ek kan my man staan. Ek wil saam met jou gaan as jy die Wolf soek, ek wil weet wat dit is.”

“My magtig Ansie weet jy wat ‘n Weerwolf is, hy vang mense man”

“En jy, hoekom is jy nie bang nie?” vra Ansie en staan ‘n tree nader aan Jean

“Jy verstaan nie, ek prober net help. Eks ‘n man en jy ‘n vrou” antwoord Jean en trek Ansie aan die arm in die rigting van sy bakkie.

“Jean ek gaan nêrens ek bly net ….”

“Ansie, magtig man hou om so hardegat te wees. Dinge kan gevaarlik raak, kom jy gaan huistoe waar is jou kar? snou Jean Ansie toe. Sy sien ‘n vreemde wilde kyk in sy oë en besef sy moet verkieslik nie nou nog verder met hom sukkel nie.

“Eina Jean, jy maak my seer, ek sal gaan man, moenie jou gat so wip nie” sê Ansie en ruk haar uit Jean se greep om haar arm los en stap na haar bakkie toe.

“Ek wip my nie Ansie, maar dis nie die plek vir ‘n vrou nie” sê Jean half verleë

“Die Wolf het my broer dood gemaak Jean of is jy te commin om dit te besef, ek wil net weet wie en wat dit is. ‘n Nagwolf is ‘n mens dit weet jy tog”

Jean sien die trane sit vlak in Ansie se oë. Al kry hy haar jammer, dit is net te gevaarlik om haar saam die berg op te neem. Sy moet huistoe. Hy maak die bakkie se deur vir haar oop en hou haar vir ‘n oomblik vas voordat hy ‘n soentjie op haar voorkop los.

“Ek’s lief vir jou Ans, moenie dit nog moeiliker maak nie, gaan huistoe asseblief”  sê Jean vinnig voor hy omdraai en in die maan verligte bosse instap. Ansie sit ‘n oomblik verstar in die bakkie, het sy reg gehoor, het Jean gesê hy is lief vir haar?

*************

Word vervolg ……

Advertisements