Hoofstuk 6

Ansie lê lank wakker en verlang iewe skielik baie na Anton. Anton was nie net haar held, haar vriend, haar ouboet en mentor nie, hy was haar beste vriend. Hy sou haar kon help met die vrae wat sy het oor die Wolf. Sy raak rusteloos aan die slaap. Met Anton, die Wolf en Jean in haar gedagtes word haar nagrus versteur deur onsamehangende drome. Sy skrik meer as gereeld wakker en kan elke droom in detail onthou. Sy droom van Anton, die Wolf en van ‘n onbekende persoon wie se gesig sy nie kan eien nie. Die man is lenig gebou met sterk gelaatstrekke, wat in elke droom êrens tevoorskyn kom. Sy gesig is bleek, sy oë wild en hy kyk haar stip aan asof hy vir haar iets wil sê.

Ansie word uit nog ‘n droom geruk deur ‘n angwekkende gil.  Sy skakel vinnig haar bedliggie aan en staar na ‘n leë slaapkamer. Dit het kompleet geklink of die gil reg hier in haar kamer was. Hier is niemand by haar in die kamer nie besef sy gou. Die nagluggie wat deur die oop venster waai laat haar ril, sy staan op en gril as daardie iets teen haar ruggraat afhardloop. Ansie staar oor die tuin onder haar kamervenster uit en sien iets of iemand net buite die naglig in die donker beweeg, of verbeel sy haar. Nee dis twee ietse, dit lyk kompleet of die groter iets, iets dra. Die skaduwees in die helder maanverligte tuin speel woer-woer met haar sig.

“Kom by Ansie du Preez” snou sy haarself  toe en maak die kamer venster toe. Sy kan net sowel opstaan, dis net na 5 en sy het in werklikheid nie regtig veel slaap ingekry nie.

*****

“Wat maak jy in die kombuis Jean?” vra Ansie toe sy Jean by die kombuis tafel sien sit en koffie drink

“My koffie in die woonstel is op en ek kry nie geslaap nie, het ek jou wakker gemaak?”

“Nee ek kon ook nie slaap nie, ek het die weirdste drome gehad laas nag”

“Vertel, terwyl ek vir jou koffie maak”

Ansie gaan sit by die kombuis tafel en staar vir ‘n oomblik voor haar uit sonder om ‘n woord te sê. Haar gedagtes is vanoggend so deurmekaar, sy voel selfs ‘n bietjie bewerig. “Ek het gedroom van die Wolf, van Anton, jy weet Jean ek het geweet dis Anton in my drome maar hoekom kon ek nie sy gesig sien nie, dis asof sy gesig verdwyn elke keer as ek in my droom myself dwing om na sy gesig te kyk? Ek het gedroom van ‘n man, ‘n lang man met sterk maer gelaatstrekke maar blekerig met sulke deurdringende swart oë, sy oë was net so swart soos joune, jy het snaakse kleur oë Jean weet jy dit?”

“Ja ek weet, dit het maar seker iets te doen met my voorvaders” lag Jean en sit Ansie se koffie voor haar neer.

“Ek het nog nooit in enige kleur kaart sulke swart oë soos joune gesien nie, dis vreemd. In elke geval die man het in elke droom na my staan en kyk asof hy vir my iets wil sê. Dit was snaaks, is dit nie weird nie? Hoe kom die man in elke droom?”

Jean sit vir ‘n oomblik en staar na sy koppie koffie. Die lang maer donker man met oë soos syne kan net Marque Lefevre wees, sy Pa. Hoe is dit moontlik dat Ansie van sy Pa droom, sy het hom tog nooit voorheen gesien nie. Mens kan net droom van wat jou onderbewussyn al ondervind en gesien het. Fantasië kan in drome verander maar sy Pa, waar kom sy aan sy Pa.

“Ek weet nie Ans, mens droom mos soms die snaakste goed” antwoord Jean haar stadig en vat ‘n slukkie van sy koffie. Die Nagwolf was gisteraand hier op die werf, hy kon hom aanvoel, maar hoe vertel hy dit vir Ansie. Hoe vertel hy haar die lang donker man kan sy Pa wees.

“Het jy ook die gil gehoor so uur terug?”

“Wat se gil Ansie, ek het niks gehoor nie?” sê tannie Bella toe sy die kombuis instap. “Moet nie vir my sê julle twee het nooit gaan slaap gisteraand nie, en magtig Ansie gaan trek vir jou ‘n kamerjas aan”

Ansie skrik so half toe sy besef sy het nooit haar kamerjas aangetrek toe sy afgekom het kombuis toe nie, sy het nie verwag om Jean hier te kry nie. Die nagklere wat sy aan het lyk kompleet soos ‘n sweetpak maar tog het dit gekleurde blomme op, en die grys sweetpak agtige materiaal klou styf teen haar lyf, dit lyk verseker soos slaapklere.

“Oh gits sorry Ma, sorry Jean” sê Ansie en spring op en hardloop kamer toe.

“Wat maak jy so vroeg in die kombuis Jean” vra tannie Bella en vat sy koppie; “Nog koffie?”

“Ja dankie tannie, die koffie in my woonstel was klaar en ek kon nie regtig slaap nie, te veel goed op my brein” antwoord Jean en haal die melk vir tannie Bella uit die yskas uit

“Julle is vroeg doenig vandag” kom dit van oom Hendrik toe hy die kombuis instap

“Die kinders was nog voor ons op Hendrik, hulle het glo sleg geslaap” lag tannie Bella en gee vir Jean en oom Hendrik elkeen ‘n beker koffie.

Die telefoon begin skril lui met die wat Ansie die kombuis instap. Die keer het sy haar hare vasgemaak en het ‘n regte sweetpak aan, nie een wat soos slaapklere lyk nie. ”Môre du Preez se woning” antwoord sy die telefoon.

“Môre nooi, is sieur Hendrik daar naby” kom dit van Andries oor die foon

“Môre Andries ek roep hom gou”

“Môre Andries, iets fout” groet oom Hendrik en luister aandagtig na wat Andries te sê het; “Ons eet net gou Andries dan kom ek en Jean daar na julle toe.”

“Wats fout Hendrik” vra tannie Bella bekommerd.

“Andries sê klein Anna se kind het gisteraand weggeraak, dit maak nie sin nie,  hy sê die wolf ding het die kind net so na 4 gesteel”

“Dis die gil wat ek gehoor het” kom dit stotterend van Ansie

“Bog man Ansie, jy kan nooit ‘n gil so ver hoor nie, Bella kom ons maak ontbyt ek en Jean gaan help soek”

Ansie vang Jean se oog en sy kan die vraagteken op sy gesig sien. Sy dink sy kan Jean vertrou en vir eens en vir altyd die geheim wat sy vir so lank al in haar hart saam dra met hom deel.

Ontbyt word in stilte ge-eet en elkeen is besig met sy eie gedagtes. Jean en Ansie maak gereeld oog kontak. Ansie trek sulke snaakse oë as Jean vir haar kyk en probeer aan hom iets verduidelik. Dis eintlik snaaks om haar te sien gesigte trek en hier en daar moet hy sy giggel beheer, netnou sien die ou mense hulle gesig gesprek. Dit gaan vrek moeilik wees om haar alleen te kry voor hy en oom Hendrik na Andries hulle toe ry.

“Kan ek saam ry na Andries hulle toe Pa?” vra Ansie.

“Dis nie ‘n plek vir ‘n vrou nie Ansie ons gaan seker die berg in”

“Jinne Pa, eks oor minder as ‘n jaar ‘n Dokter en het op ‘n plaas groot geword, wat moet ek nog doen om julle te oortuig ek kan nie breek nie” antwoord Ansie oom Hendrik. Jean sien dat oom Hendrik nie regtig iets kan terug sê om sy saak verter te staaf nie.

“Goed Ansie gaan trek aan ons wil ry”

*****

Jean sien Andries en ‘n paar van hulle plaas werkers staan kop onderstebo en gesels. Die gemeenskap is duidelik omgekrap, net waar jy kyk staan klein groepies mens en gesels. Hier en daar sit ‘n vrou en huil, ‘n somber atmosfeer hang swaar in die lug.

“Kom ons gaan hoor wat het gebeur” kom dit van oom Hendrik

“Jean ek moet jou iets vertel, kan ek jou vertrou?” sê-vra Ansie toe sy aan Jean se arm vat en hom keer om nie saam met oom Hendrik te stap nie

“Natuurlik kan jy my vertrou, wat is dit  Ansie?”

“Nie hier nie, gaan ons vanaand nog berg toe?”

“Ek weet nie, ons sal moet sien wat hier gebeur het Ansie”

“Kan ons vir my Pa hulle sê ons gaan iets drink of iets, ons moet vanaand die berg op, ek moet jou iets vertel voor ons opgaan”

“Ok, kom ons kyk wat gebeur”

‘n Bakkie stop langs hulle en Jean sien oom Jan Nienaber en Klein-Jan uitklim en in oom Hendrik se rigting stap. Jean wikkel hom uit Ansie se greep en stap self na waar oom Hendrik en Andries in diep gesprek is.

Oom Jan Nienaber is die boer op Iona, ‘n buurplaas wie se werkers ook in die gemeenskap woon. Sy plaas is in die vallei net onder die berg, naby die huise van die kleerling gemeenskap.

“Wat het gebeur Hendrik?” vra oom Jan

“Môre Jan, ek weet nie regtig of mens dit kan glo nie maar ons het weer te doen met dieselfde goed wat 12 jaar terug gebeur het”

“Jy grap” kom dit vinnig van oom Jan

“Ek is bevrees nie”

“Ek dog ons het die donnerse ding verdryf Hendrik, ek het nie lus om weer in sulke gemors betrokke te raak nie, die keer gaan die polisie die wêreld omkeer”

“Stap saam Jan, kom ons gaan hoor wat sê klein Anna”

Jean wink vir Ansie en drentel solank agter die twee boere aan. Hier maak iets geen sin nie. Die datums wat almal hier rondslinger is totaal anders as die 21 jaar wat die skoolkinders rond vertel. Die twee boere weet baie meer as wat hulle voorgee, Andries is net so betrokke soos hulle.

“Wats fout Jean?” vra Ansie toe sy by hom aansluit

“Hiers fout Ansie, die Nagwolf kom meer as gereeld in die omgewing, jou Pa en oom Jan weet meer as wat hulle sê”

“Ek weet Jean, dis hoekom ek met jou moet praat”

Ansie hardloop tot by haar Pa en vat sy hand in hare. Jean kan sien oom Hendrik is bekommerd, sy oë verklap hom toe hy na  Ansie kyk.

**************

Word vervolg …..

Advertisements