Kobus sit opgesmuk in ‘n ou sweetpak en lees deur die referaat wat hy oor twee weke moet aanbied by die kongres in Lauterbrunnen, die mediese kongres, die vier jaarlikse wêreld kongres vir Ortopediese Chirurge. Die vuurtjie in die kaggel kletter rustig en waar Kobus sit en werk kan hy amper die hitte direk voel.

Hy en Christa is nou al drie jaar hier in Champèry in die suide van Switserland. Die dorpie of “Village” soos wat die inwoners na die klein plekkie verwys, lê teen die hang van die Les Dents du Midi hange in die Switserse Alpe. Hulle huise is soos al die ander in die straat sonder fieterjassies en lyk in die winter soos die huisies op poskaarte van Switserland. Christa het gou hulle plekie snoesig ingeklee en die reuk van die kaggel vuur en ‘n pot vars koffie dra by tot die atmosfeer van rustigheid wat hy al vir 3 jaar daagliks opdrink.

Christa het gou werk gekry in die plaaslike kliniek vanwee haar beroep as ‘n teater suster, maar hy bly geskors, geskors. Dis selde dat ‘n ortopeet geskors word vir wanpraktyke maar hy kan nog steeds nie glo die instituut het hom wragtig geskors nie. Hy wat Dr. Kobus Breedt is, een van die beste Ortopete in die wêreld. Nie dat sy selfbeeld meer daardie tietel kan of mag verwerk nie.

Kobus kyk vir ‘n oomblik op van sy werk en sit terug in die gemakstoel waarop hy sit. Sy gedagtes gaan terug na die verhoor, die getuies van sy mede ortopete, die pasient se advokaat en die bevinding twee maande later: “Dr Breedt, die raad het al die getuienis voor hom oorweeg en besluit om jou van die mediese rol te skrap vir ‘n periode van 10 jaar. “

Kobus wou binne 5 jaar afgetree het en dan in die akademie betrokke geraak het, nou mag hy vir 10 jaar nie sy liefde beoefen nie, hy is eintlik nie meer eens ‘n dokter nie. Die akademie gaan hom nooit nou inneem nie. Wie sal nou belangstel in ‘n ex-geskorste dokter.

Die koffiebeker in sy hand brand hom effens toe hy die soveelste beker koffie ingooi. Was dit nie vir Christa en haar liefde en ondersteuning nie weet hy nie of hy die terugslag sou kon verwerk nie. Dinge het so vinnig gebeur, hy het nog nie mooi tot verhaal gekom nie toe is hulle tasse gepak en het sy als verkoop om vir hulle ‘n nuwe bestaan te kom maak in Champèry. Hier waar sy siel en gedagtes kon rus.

Die uitnodiging na die kongres was ‘n verrassing, hy het wel twee boeke geskryf die afgelope 3 jaar oor ortopedie en die studies daarin wat hy oor die jare gedoen het. Altwee was gou treffers onder alle ortopede maar ‘n referaat by die kongres, dit was ‘n verrassing.

Hy is ook nie so seker of hy van sy ou vriende in die oë kan kyk by die kongres nie, hulle het hom ondersteun in die ondersoek maar ook tog in ‘n mate verraai.

“Wat droom jy so?” hoor hy Christa se stem en hy wip soos hy skrik.

“Ag Chrissie ek is weer in een van daai buie” antwoord hy sag.

“Jy moet vinnig uit daai bui kom, ek het ‘n brief van die Mediese Raad in Suid Afrika.”

“Het jy dit oopgemaak?”

“Ja, ek het. Ek wou seker maak dis die brief waarvoor ek gewag het” antwoord Christa hom

“Waarvoor jy gewag het?”

“Ja, die brief om te bevestig alle aanklagte is teen jou teruggetrek en dat jou naam weer in ere herstel is”

Kobus spring op en stort sy koffie oor sy sweetpak; “Hoe bedoel jy eks in ere herstel”

“Ek en Gerhard het jou saak geappeleer en hy het hard gewerk om die korrekte feite uit te snuffel oor die aanklagte teen jou. Kom ons kan later daaroor gesels, ek maak vir jou vars koffie, trek jy solank droë klere aan. Oh terloops, daars ook ‘n bevestigende brief oor die tye van jou praatjie, hulle wil sommer hê jy moet met die openings ete oor jou boeke ook praat”

“Seker weer jou voorstel nê”

“Eks lief vir jou Kobus, eks sal als doen om jou te help”

“En ek vir jou Chrissie” sê Kobus sag toe hy sy vrou ‘n drukkie gee en ‘n traan uit sy oog uit vee

“Meer as wat jy ooit sal besef”

Advertisements