Dis amper skemer toe Suzette by die strand stilhou, haar sonbril afhaal en in die rigting van die rotse stap. Die wind waai die trane teen haar wange vas terwyl sy vergeefs probeer om die hare uit haar gesig te vee.

“Hoekom ek, hoekom altyd ek?” vra sy kliphard vir haarself

Sy gaan sit op die punt van die rots en staar ver die see in. Dis nou vir maande wat sy tevergeefs na antwoorde soek. Dag in en dag uit word sy soggens wakker met ‘n nat kussing en weet sy gaan vanaand weer met trane in haar oë aan die slaap raak.

As Theo maar net nog geleef het sou hy geweet het hoe om haar te troos. Hy sou haar raad gegee het, hy sou kon help.  Maar nou is Theo dood, hy het 5 maande terug verdrink en nou is sy alleen. Sy wil nie meer alleen wees nie, sy wil nie meer so swaarkry nie. Die kinders is klein, daars nie geld nie, niemand help nie.

 “Wat sit jy so en huil Suz” hoor sy,sy stem agter haar

Suzette ruk haarself om en kyk om haar rond. Hier is niemand, wie het gepraat? Dit het soos Theo se stem geklink.

“Hiers ek Suz” hoor sy weer Theo se stem

“Waars jy?” vra sy benoud.

“Hier onder in die water, kyk af” beveel hy

Suzette skuif nader aan die punt van die rots en kyk af in die branders wat teen die rots klots.

“Ek sien jou nie!” roep sy benoud

“Spring in, kom in, eks hier!” hoor sy Theo se stem vanuit die water

“Ek sal verdrink, kom jy uit asseblief, ek het jou nodig!” gil-huil Suzette en probeer nog nader aan die kant van die rotse skuif. Die water spat oor haar gesig, die wind waai haar trane, die sout water en haar hare rond. Sy voel so verdwaal in haar behoefte dat sy nie sien hoe die see haar koggel nie.

“Kom na my toe, dis rustig hier, hier is geen hartseer, hier is geen trane” roep Theo haar

“Wat van die kinders Theo, wie gaan na hulle kyk?” vra Suzette sag

“My ma sal, sy kan beter na hulle kyk as jy, jy is alleen, jy wil nie meer alleen wees nie. Kom na my toe dan is ons saam” roep Theo haar weer

Suzette gaan sit effe terug op die rotse. Theo is reg, sy ma sal beter na hulle kan kyk as sy. Sy is in ‘n toestand. Sy is alleen. Sy is deurmekaar.

Wat van Odette, wat van Thomas, ‘n tweede ouer in 5 maande?

NEEEE!” skree Suzette; “Eks hulle ma, eks hulle ma!

Suzette spring op en hardloop terug kar toe. Sy het haar kinders, hoe kon sy alleen voel. Sy kry nie swaar nie, sy het haar kinders.

Saggies hoor sy Theo se roep na haar.

Sy draai om en kyk na die rotse, na die see.

Die wind speel met haar hare, die trane is droog.

“Eks lief vir jou Theo!” skree sy in die rigting van die rotse

“Ek moet huistoe gaan, ek gaan nie weer kom kuier nie!”

“Ek het ons kinders!”

Advertisements