Elke keer as ek voel soos ek gisteraand gevoel het dink aan Dr Bennie Mostert se preek oor ‘n geveg met God. Ek het gisteraand een van daai gevegte gehad en oh mens het ek geveg.

Van nature is ek ‘n baie “beneukte” opgewekte mens wat die lewe ten volle geniet. Ek is ook ‘n mens met baie streng waardes en beginsels. Die waardes en beginsels het niks te doen met ‘n wyntjie drink en dalk hier en daar ‘n knoop los nie. Die waardes en beginsels gaan oor hoe ek die lewe sien, hoe ek my gesin wil benader en wat ek uit die lewe wil haal, hoe ek my verhouding met God beleef.

My brein regeer my lewe en word ek selde gevang dat my hart die oorhand kry. As dit by my gesin kom, dis nou die sexy een en die 3 manne, is my brein maar erg treurig en vat my hart oor maar anders rule my brein.

Dinge loop nie soos my brein dit vir my wil reel nie en ongeduld het ook nog sy eie sê gehad in wat om my aangaan die afgelope paar jaar. Kort voor lank flip ek en gooi ‘n vloermoer wat vir niks skrik nie.

Ek veg met God en ek raak halstarrig. Ek, ek kan halstarrig raak as ek wil die dag, glo my!

Gisteraand voor ek gaan slaap dink ek weer aan Bennie se preek en word stil met my geveg in my gedagtes. Ek is seker nie die enigste een nie, maar daar kom tye wat jy voel jy kry net nie die gesprek met God aan die gang nie. Jou brein en jou gedagtes haak vas!

Diep in my onderbewussyn besef ek God wil hê ek moet nou stilbly. Hy wil nou die skaafplekke verbind en my gedagtes skoon maak. Hy wil vir my sê soos telkemale in my lewe:

“Wees geduldig,  ek dra swaar maar ons sal daar kom”

Ek raak aan die slaap en ek het nog nie askies gesê nie, die telefoon is nog nie geantwoord nie.

Ek staan vanoggend op met ‘n kraak in my stem, my gemoed is vol en my gedagtes leeg. Ek voel oorwin, ek voel leeg!

Ek is moeg!, moeg vir … vir .. ja dis maar een van daai dinge nê!

Die sexy een wat my laasnag vasgehou het asof ek gaan wegdryf, gee my vanoggend ‘n drukkie en vra; “Jy ok?”

Ek is ok, ek het ‘n pal wat aan my kant is, ek het ‘n pa wat my dra as ek struikel, ek het ‘n God wat weet ek is moeg!

Ek het ‘n God wat weet hy moet help, en hy sal!

B

Advertisements