Hoofstuk 2

Jean se mond water toe hy die kombuis instap. Soos gewoonlik is tant Bella se ontbyt met spek, eiers en al die bygoedjies iets om oor huistoe te skryf. Die reuk alleen maak hom elke oggend mal en hy weet hy gaan alweer te veel eet.

“Kom ons vat hande” sê oom Hendrik en steek sy hande vir tant Bella en Ansie uit.

Jean vat Ansie se hand en loer vir haar so half onder sy wimpers deur terwyl oom Hendrik die tafelgebed doen. “Dam jy’s vrek mooi” dink hy amper hardop. Verbeel hy hom of was daar dalk ‘n sagte drukkie toe Ansie sy hand los, nee hy verbeel hom. “Moet nou nie staan en op die baas se dogter verlief raak Smit!” gaan deur sy gedagtes.

“Jean het jy gehoor wat ek sê?” vra oom Hendrik terwyl Jean amper in sy eier stik

“Eksuus, nee oom my gedagtes was ver” antwoord hy half verleë

“Het sy ‘n naam Jean?” vra Ansie terwyl sy saggies giggel

“Ag Ansie loop, loop … “ sê Jean en voel hoe hy bloos

“Ek sê die Wolf ding se storie het so 4 jaar terug hier begin toe een van die volk daar teen die hang aangeval is deur iets wat groter as ‘n herdershond is. Die man het so tekere gegaan dat selfs die polisie nie regtig kon agterkom wat dit was wat hom so verniel het nie.” Vertel oom Hendrik; “Hy het vertel van ‘n Wolf, soos in die flieks, wat met yslike slagtande vir hom gegrom het,  hom van agter ingehardloop, en hom toe aangeval het. Dit was een aand met volmaan net nadat dit sterk donker geword het”

“Maar oom dit kon mos maar ‘n wegloper hond gewees het” sê Jean

“Ja so het ons almal gedink totdat dit weer en weer gebeur het. Elke keer die aand voor, met volmaan en net na volmaan verskyn die gedierte en pla die volk teen die hang. My volk is al so bang dat hulle met volmaan  nie eers meer uit hulle huise gaan nie” sê oom Hendrik

“Pla hy net die volk in teen die hang?” vra Jean

“Nee Jean dis die gemors, hy kom en gaan in die vallei en was laas gesien op Franshoek waar hy hier en daar ‘n dier op ‘n boer se plaas gevang het.” is oom Hendrik se antwoord.

“Die interesante deel Jean” sê Ansie; “is dat die ding sy eerste opwagting gemaak het die jaar net na ons in matriek was, die seuns in die skool het al voorspel dat dit weer tyd was vir ‘n nuwe Wolf”

“Hoe so?” vra Jean

“Daar was jare terug blykbaar ook so ‘n verskynsel volgens die boere wat al lank hier bly. Ek weet dat Jan Nienaber al by ‘n vorige geleentheid ook so vertel het. Dit was  blykbaar toe hy in matriek was die laaste keer voor nou. Sy Pa het weer aan hom vertel dat dit omtrent elke 21 jaar gebeur en dat die Wolf ding net so misterieus wegraak soos wat hy verskyn het” vertel oom Hendrik

“My eerlike opinie oom, dis maar net bloot toevallig. Ek het nog nooit van so iets gehoor nie en die gemeenskap moes mos al die goed aan die koerante of iets vertel het” is Jean se opmerking

“Dis 1975 die Jean, waar in die lewe gaan die gemeenskap koerante toe hardloop met ‘n storie wat niemand glo nie” vra Ansie

Oom Hendrik se lag kom diep uit sy maag toe hy Jean antwoord; “Ja nee magtig het jy nou al vir Dominie en daai tant Sarah Verheem gehoor as die koerante daaroor sou skryf, “Duiwelse goed sê ek vir jou Dominie, duiwelse goed” , nee wat die mense los dit maar by sugestie”

“Sal jy vanmiddag saam met my Kaap toe ry Jean ek moet van my goed by die koshuis gaan haal?” vra Ansie

“Hoe bedoel jy nou Ansie?” vra Jean

“Dis bloktyd en ek gaan nie meer in die koshuis bly volgende semester nie, pa het vir my ‘n klein woonstelletjie gekry” antwoord Ansie; “Ek gaan die vakansie daar intrek”

“Jis maar jy word bederf, vry jy nie meer lekker in die koshuis nie? Vra lag Jean

“Jy weet Smit, ek weet nie hoekom ek nog nice is met jou nie, jy is bleddie orig” kom dit van Ansie toe sy opspring van die tafel af en die kombuis uit storm

Askies oom, tannie dit was net ‘n grappie” sê Jean toe hy verskoning maak om te gaan werk.

“Dis ‘n teer puntjie Jean, sy en Arno is uit so die vryery is maar sukkel, sukkel” lag oom Hendrik

“Julle mans is almal onsensitief” kap tant Bella en staan op

*****

Jean stap kelder toe om vir Andries op te laai sodat hulle na die boorde kan gaan kyk. Diep ingedagte loop hy en wonder of die boere van die omgewing regtig weet wat hier aan die gang is. Hier in hulle kontrei leef ‘n Weerwolf, of dalk twee en as die oupa nog leef dalk drie. Hy wonder of hulle besef dat die Weerwolf nie van hom gaan hou nie. As hulle mekaar gaan ontmoet gaan die hare waai.

“Andries, kom ons ry, ek wil gaan kyk hoe vorder die plukkers” sê Jean toe hy Andries in die kelder gewaar

“My Lanie gaan ons lank wees?” vra Andries

“Hoekom vra jy?” vra Jean terug

“Nee jong Sieur het gesê hy wil hê ek moet kyk dat die pars vandag nie ‘n step mis nie” antwoord Andries en hy wil, wil terugstap kelder toe.

“Die pars sal loop Andries, jy hoef hom nie dop te hou. Kom ons gaan nie lank wees nie” lag Jean.

Jean weet alhoewel Andries die voorman is, hy die arbeiders beskerm. Hy besef dat die Wolf hulle gisteraand omgekrap het en hulle dalk stadiger as was nodig is sal pluk vandag. Die staaltjies en opmerkings gaan vloei.

Jean is nie verbaas toe hy by die boorde aankom en die plukkers in groepies sien staan nie. Hulle is druk besig in gesprekke en hy kan van vêr af die tradisionele manier van praat hoor

“Jy’s gepik man, daai was ‘n hondjie,teni ene wat ek laas gesien het” kom dit van een

“Ag djou ma man, Piet sê daai ding is net in julle koppe man, daars gan sulke goed soos “wolwe nie, wolwe?, smaak my julle suig gom” kom dit van ‘n ander

“Waaroor gaan die geskarrel Andries, wat het gebeur?” vra Jean

“Nee my Lanie jy sien, daai Wolf het mos weer gisteraand sy kop in ons kontrei kom wys.” Antwoord Andries

“Eks al amper 18 maande hier Andries, hoekom is dit die eerste woorde wat ek daarvan hoor?” vra Jean

“Jy sien, die ding werk so. As die Wolf homself in die een part van die vallei uitwerk dan kies hy koers na die ander part. Hy was twee jaar jaas eitlik hier rond. Ek het gehoor die boere op Franshoek het op hom geskiet nou is hy weer hier. My oupa sê hy kom van hier” sê Andries en Jean kan sien hy is bang vir die Wolf ding

“Hy gaan nie pla nie Andries, hy maak julle maar net skrik” sê Jean

“Jirre my Lanie waarvan praat jy nou, hy gaan ons vreet. Hy het al mense gevreet” sê Andries verskrik en kyk Jean met groot oë aan

“Ag nonsens Andries, waar het hy al mense gevang” sê Jean vererg

“Struus my Lanie, op my ma se hart sê ek jou. Hy vang mense” kom dit van Andries

Jean wonder of Andries regtig die waarheid praat en of hy maar net gorrel. As hy die waarheid praat gaan dinge vererger met hom hier.

Word vervolg …….

Advertisements