Party mense het ‘n loopbaan wat jy volg en waar jy gelukkig in is, maar heimlik is daar ‘n ou joppie wat jy liewer wou doen. My swaer is ‘n vliënier en al wat hy wou doen vandat hy klein was, was om te vlieg, so hy leef sy droom. Ek leef nie my droom nie ……

My joppie, wat ek al doen vandat ek 25 is, is ‘n joppie wat ek geniet maar my droom was nog altyd om te boer. Nie te boer soos in half, half, speel, speel nie. Boer soos in Boer! So ek het nooit die spreekwoordelike Wildsplaas of Speelplaas gekoop nie.

So paar jaar terug sit ons, die Familie Vuil Mafia, dis nou Vader en Moeder met die hele gespuis, en gesels oor ons lewens en die werk wat ons doen. Ek vra vir Vader vuil wat hy dink ek sou wou word, wat my droom joppie is en die antwoord kom vinnig; “’n Aandele Makelaar”

Ek lag en vra die sexy een wat sy dink; “Jy wil gaan boer”

Nodeloos om te sê die hele Mafia was erg verbaas want daai een het hulle nog nie gehoor nie. Boere maak nie geld nie, jy boer nie op skuld nie, wat weet jy van boerdery af, jy is te analities, jou vrou sal dit nie maak nie. Alles waar, veral die sexy een en liggies.

Laas naweek sit ons Vrydag aand op Moordkuil in die distrik Grootbrak naby die dorpie Friemersheim en braai. Die aandlug en die plaas geluide speel ‘n melodie met die vuur wat kletter en die wyn wat vloei. Erens blêr een van Plaas Neef se skape en ‘n hond op die buur plaas blaf kortaf.

“Het jy geweet ons kan die leeus van die wildsplaas hoor as die wind bergop waai” kom dit van Plaas Nig.

Friemersheim dorpie was ‘n ou bosbou dorpie met 1500 siele, driekwart teen die Gamkaberg op 12 killos buite Grootbrak. Die kleurling gemeenskap wat daar woon is vrolik en gesels land en sand as jy by Pop se winkel stop vir ‘n koeldrank en twee dae oue brood.

Die boere en die gemeenskap op Friemersheim is saamgesnoer in ‘n eenheid wat harmonies werk en saam boer. Een van Plaas Neef se plase, Skoonwater, grens aan Freemersheim en die straatjie, Lelie Close, vat jou tot by die hek.

Die helfte van die Slawehuis op Moordkuil, Neef se plaas, behoort aan Millie van toet af. Die Slawe huis is ‘n geskeidkundige gebou en Neef en Millie mag dit nie verander nie. Die “wit” skool is verander in ‘n huis en die grens aan Neef se plaas. Die skool waar Nig skool gegaan het en die grond, ‘n hele paar hektaar ,is in die mark. Die oom se vrou is oorlede en die kinders wil hê hy moet stad toe, of Kaapstad of Pretoria.

Die “skool plasie” se naam word eersdaags verander na “Uit-fo-ken-ein-de-lik .. met ‘n kappetjie fff”

Die familie vuil gaan boer, die familie vuil gaan langs Moordkuil op “Uit-fo-ken-ein-de-lik … met kappietjie fff “ boer.

Waarmee … ek weet nie … pla dit my …NEEE … wat sê die sexy een? …

“Ek het ‘n verskuilde opgewondenheid, ons gaan boer”!

Advertisements